ONS KOSHUIS – HUIS BLOEMHOF

‘n Huis-weg-van-die huis

Welkom by Huis Bloemhof, waar ons ‘n tuiste skep vir Bloemhoffers wat nie naby die skool woon nie. Hier is die fokus op susterskap en mekaar ondersteun, terwyl die koshuisleuse, Semper Amare – Altyd in liefde, prakties uitgeleef word.

In die koshuis is leerders ingedeel in 2-bed (seniors) en 3 of 4-bed kamers (juniors). Leerders bring hulle eie beddegoed en kamerversieings om die kamers gesellig te laat lyk. Elke paar kamers vorm ‘n seksie met ‘n HK-lid wat in die seksie bly en op ‘n daaglikse grondslag omsien na hulle behoeftes.

Huis Bloemhof: ’n Oorsig

180

leerders verdeel
in 15 seksies

36

leerders per
graadgroep

17

HK-lede

10

Koshuiswerkers

1

Koshuisbestuurder

1

Superintendent

Huis Bloemhof: ’n Oorsig

180

leerders verdeel
in 15 seksies

36

leerders per
graadgroep

17

HK-lede

10

Koshuiswerkers

1

Koshuisbestuurder

1

Superintendent

Geriewe en fasiliteite

Ontspanningsruimtes

Daar is twee groen tuinvierkante waar leerders kan ontspan en selfs vlugbal speel. ‘N Groot TV-kamer met gerieflike banke word ook dikwels vir graadgroep byeenkomste ingespan.

Tegnologie en Studiegeriewe

Daar is gratis Wifi in die koshuis beskikbaar en ook twee areas met rekenaarstasie waar leerders aan projekte of take kan werk.

Elektriese toestelle

Drie koffiehoekies met e-boilers sowel as ‘n kouewater-punt vergemaklik die koshuislewe vir die leerders.

Senior leerders mag een yskas per kamer aanhou, terwyl juniors op sekere tye hulle eetgoed in die groot kombuisyskas kan gaan haal.

Elke leerder mag ‘n waaier vir die somerhitte hê, alhoewel verwarmers ongelukkig nie toegelaat word nie.

Akademiese- en Sporttoegang

Leerders het na skool toegang tot die mediateek by die skool, waar hulle by die tutorprogram kan inskakel.

Hulle het ook toegang tot die skool se gimnasium op tye waar daar nie kondisionering aangebied word nie.

Al die skool se sportfasiliteite is ook toeganklik vir die koshuisleerders.

Snoepie en Etes

Die koshuis het ‘n eie Snoepie wat sekere tye saans oop is. Leerders mag in die middae en direk na aandete die nabygeleë Paul Roos Kwikspar besoek. Ubereats mag ook tot saans 19:00 bestellings by die koshuishek aflaai.

Personeel

Omvattende sorg en toesig

Daar is ‘n groot personeelkorps betrokke wat help om na die koshuisleerders om te sien en alles vlot te laat verloop. Die superintendent en adjunksuperintendent is die direkte skakel tussen die ouers en die leerders. Die koshuisbestuurder hanteer die bestuur en instandhouding van die fasiliteite en sien ook gedurende skoolure na siek leerders om. Die personeel wat direk oor die leerders toesig hou, is almal opvoeders by HMS Bloemhof en kan derhalwe behoorlike ondersteuning bied. Die koshuiswerkers sorg vir die etes en die higiëne. Hulle is die hart van die koshuis en hanteer die leerders met baie liefde en sorg.

Etes

Gesonde etes op ’n buigbare skedule

Leerders kry soggens ‘n voedsame ontbyt en daar word voorsiening gemaak vir leerders wat weens sportverpligtinge later ontbyt eet. Die hoofmaaltyd word in die middag tydens tweede pouse genuttig, sodat leerders direk nadat die skool verdaag, na hulle onderskeie aktiwiteite kan gaan. Aandete is reeds om 17:30, maar daar is ‘n laatete-sisteem vir leerders om ook om 18:30 te eet.

Koshuisreëls en veiligheid

Die personeel is baie gesteld op die veiligheid van die dogters in hulle sorg. Leerders moet altyd in groepies buite die skoolterrein en op dorpsdae beweeg.

Indien daar spesiale geleenthede is, moet daar betyds vooraf deur ouers of voogde toestemming gevra word. Alle leerders het ‘n goedgekeurde aktiwiteitslys wat hulle onderskeie goedgekeurde vaste aktiwiteite aandui. Elke aand om 19:00 is daar deeglike kontrole deur die personeellid aan diens. Die koshuisdeure sluit saans om 21:00 en soggens weer om 5:45 oop.

Die koshuisreëls wat in plek is, poog om alles in die koshuis glad te laat verloop. Daar is ‘n kredietstelsel in plek waarvolgens oortredings hanteer word, maar wat leerders ook in staat stel om ekstra punte met goeie gedrag te verwerf. Hierdie puntetoekenning word ingespan wanneer leerders aan die einde van elke jaar hulle kamers vir die volgende jaar kies.

KONTAK

Vir enige navrae, kontak ons gerus as volg:

Koshuisbestuur