Die steunpilaar van ons skool

Ontdek jou potensiaal

Bloemhof is sinoniem met uitmuntende akademiese uitslae en leerders wat die gaping tussen skool en universiteit met gemak oorbrug. Punte en prestasie is nie die doel nie – by Bloemhof gaan dit daaroor dat elke leerder haar volle potensiaal ontdek en ontwikkel.

Ons fokus veral op:
  • gesonde werksetiek
  • die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede
  • die vermoë om bronne te evalueer, vrae te internaliseer, logies te redeneer, en sinvolle antwoorde te formuleer
  • akademiese integriteit en die verantwoordelike gebruik van hulpbronne soos ChatGPT en ander KI-modelle
  • ’n gemaklike oorgang van sekondêre na tersiêre opvoedkundige instansies

BLOEMHOF-TUTOR

Akademiese hulp vir Bloemhoffers deur Bloemhoffers

Bloemhoffers neem hul akademie baie ernstig op, en dit lei soms daartoe dat leerders onnodige druk op hulself plaas om te presteer. Bloemhof-tutor is ons eweknie-onderrigprogram (“peer-to-peer tutoring) waar leerders mekaar akademies bystaan.

Kontak tutor@hmsbloemhof.co.za vir meer inligting.

EKSTRA KLASSE

Ekstra kontaksessies met opvoeders

Bloemhof se opvoeders is daartoe verbind om leerders wat ekstra kontaktyd nodig het, by te staan. Sommige opvoeders het vaste tye waarop leerders hulle kan sien, terwyl die Wiskunde-departement drie dae per week gratis ekstra klasse aanbied.

REMEDIËRING EN LEERONDERSTEUNING

REMEDIËRING EN LEERONDER-
STEUNING

Ondersteuning waar dit saak maak

By Bloemhof verstaan ons dat elke leerder op haar eie manier leer, en ’n remediërende opvoeder en opvoedkundige sielkundige vorm deel van ons personeel.

Me. Annemarie Wever, remediërende opvoeder by Bloemhof
Me. Annemarie Wever

Me. Annemarie Wever, ons remediërende opvoeder, bied persoonlike, een-tot-een ondersteuning aan leerders wat ekstra hulp benodig om selfvertroue te bou en leeruitdagings te oorkom.

Dr. Carla Bezuidenhout, opvoedkundige sielkundige verbonde aan Bloemhof
Dr. Carla Bezuidenhout

Dr. Carla Bezuidenhout, ’n opvoedkundige sielkundige, is ook beskikbaar om leerders te help om struikelblokke te identifiseer en praktiese strategieë te ontwikkel vir sukses in die klaskamer en daarbuite.

VAKKEUSES

Vakke wat tot moontlikhede lei

Het ’n passie vir tale? Dalk het jy ’n liefde vir die skone of die uitvoerende kunste? Miskien glo jy STEM is die toekoms en kan jy nie wag om met wiskunde, wetenskap en tegnologie weg te val nie.

By Bloemhof vind jy die ruimte om jou eie leerpad saam te stel. Nuwe graad 8’s dui in die eerste week van die skooljaar finaal aan watter vakke hulle in graad 8 en 9 gaan neem, terwyl graad 9-leerders in September hul vakke vir graad 10 tot 12 kies.

Neem kennis van die volgende i.v.m. vakkeuses:

Skeppende Kuns (groep 9 by graad 8 en 9) behels verrykingsvakke en voorafkennis van drama, kuns of musiek is nie nodig nie. Musiek in groep 9 word sonder instrumentale onderrig aangebied. Graad 8- en 9-leerders wat kuns as een van hul Skeppende Kuns-vakke neem, het twee periodes per siklus by die PJ Olivier Kunssentrum klas en stap as ’n groep na en van die sentrum. Leerders kan ongelukkig nie in graad 9 hul keuse in hierdie groep verander nie.

Musiek as vak (groep 10 by Graad 8-9 en groep 6 en 7 by Graad 10-12) behels instrumentale onderrig (insluitend sang as instrument) asook ’n teoretiese komponent. Moontlike addisionele kostes is van toepassing. Meer inligting oor Musiek is by hier beskikbaar. Graad 8- en 9-leerders kan musiek in groep 10 én musiek as een van hul Skeppende Kuns-keuses in groep 9 neem.

Kuns as vak, Visuele Kunste en Ontwerpkuns word deur die PJ Olivier Kunssentrum gefasiliteer en addisionele kostes per jaar is betaalbaar. Leeders woon klas in die middag ná skool by en het soggens sogenaamde vryperiodes wanneer daar Kuns op hul rooster verskyn. Gedurende hierdie periodes sit hulle in die Mediateek en doen tuiswerk wat hulle na skool sou moes doen. Graad 8- en 9-leerders kan kuns in groep 11 én kuns as een van hul Skeppende Kuns-keuses in groep 9 neem.

Inligtingstegnologie word deur Paul Roos Gimnasium gefasiliteer en addisionele kostes per jaar is betaalbaar. Leeders woon klas in die middag ná skool by en het soggens sogenaamde vryperiodes wanneer daar Inligtingstegnologie op hul rooster verskyn. Gedurende hierdie periodes sit hulle in die Mediateek en doen tuiswerk wat hulle na skool sou moes doen.

IsiXhosa word sedert 2025 nie meer as amptelike vakkeuse in ons rooster aangebied nie, maar leerders wat dit as ’n ekstra vak sou wou neem, kan vir me. Renée Geustyn by renee@hmsbloemhof.co.za kontak.

Ekstra vakke kan geneem word; leerders word op die beleid vir ekstra vakke gewys.

LET WEL: Leerders kan nie in graad 9 ’n derde taal neem wat hulle nie in graad 8 geneem het nie. Leerders wat in grade 10 tot 12 by Bloemhof aansluit, het dikwels ’n agterstand in vakke soos Rekeningkunde en Wiskunde. Van personeellede word verwag om drie keer in dié verband ekstra hulp aan te bied. Enige verdere hulp wat benodig word, moet deur die leerder/ouers self bekom word of hulle moet die ekstra hulpklasse ná skool bywoon.

GROEP 1
Afrikaans Huistaal

GROEP 2: KIES EEN
English Home Language
English First Additional Language

GROEP 3
Wiskunde

GROEP 4
Natuurwetenskappe

GROEP 5
Sosiale Wetenskappe (Aardrykskunde en Geskiedenis)

GROEP 6
Tegnologie

GROEP 7
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW)

GROEP 8
Lewensoriëntering (LWO)

GROEP 9: KIES TWEE
Skeppende kuns: Drama
Skeppende kuns: Musiek
Skeppende kuns: Kuns

GROEP 10: KIES EEN
Duits Tweede Addisionele Taal
Frans Tweede Addisionele Taal
Ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO)
Rekenaarvaardigheid
Musiek

GROEP 11: KIES EEN (moet verskil van groep 10)
Duits Tweede Addisionele Taal
Frans Tweede Addisionele Taal
Ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO)
Rekenaarvaardigheid
Kuns (by PJ Olivier)

GROEP 1
Afrikaans Huistaal

GROEP 2: KIES EEN
English Home Language
English First Additional Language

GROEP 3
Lewensoriëntering

GROEP 4: KIES EEN
Fisiese Wetenskappe
Lewenswetenskappe
Ekonomie
Geskiedenis
Verbruikerstudie
Visuele kunste
Ontwerpkuns
Inligtingstegnologie

GROEP 5: KIES EEN
Wiskunde
Wiskundige geletterdheid

GROEP 6: KIES EEN
Rekeningkunde
Geografie
Musiek
Frans Tweede Addisionele Taal
Duits Tweede Addisionele Taal
Ingenieursgrafika en -ontwerp
Verbruikerstudie
Inligtingstegnologie
Visuele kunste
Ontwerpkuns

GROEP 7: KIES EEN
Lewenswetenskappe
Fisiese Wetenskappe
Dramatiese kunste
Geskiedenis
Visuele kunste
Ontwerpkuns
Musiek
Rekeningkunde
Rekenaartoepassingstegnologie (RTT)
Inligtingstegnologie

VAKVERANDERINGE

Verander met vertroue

Belangstellings en sterkpunte verander soms mettertyd. Wanneer ’n leerder oorweeg om van vak te verander, volg ons die gestruktureerde proses wat deur die WKOD uiteengesit is. ’n Vakverandering volg ná deeglike gesprekke tussen die leerder, haar ouers en die relevante opvoeders. Elke besluit word met sorg geneem om te verseker dat dit in die leerder se beste belang is en haar toekoms ondersteun.

Let wel: Die WKOD het bepaal dat geen vakveranderinge in graad 12 toegelaat word nie.
Sperdatums word deur die WKOD bepaal en is finaal. Geen vakveranderinge word in graad 12 toegelaat nie.
Graad 8 en 9
  • Sperdatum: 27 Julie 2026
  • Voltooi Vorm A
  • Let wel: Geen veranderings aan keusevakke of Skeppende kuns-vakke word toegelaat nie. Slegs verandering van English HL na English FAL word gefasiliteer.
Graad 10
  • Sperdatum: 27 Julie 2026
  • Voltooi vorm B en vorm C (Bylaag A van die WKOD)
Graad 11
  • Sperdatum 13 April 2026
  • Voltooi vorm B en vorm C (Bylaag A van die WKOD)
EKSTRA VAKKE
  • Sperdatum vir ekstra vakke: 30 Januarie 2026
  • Voltooi vorm D
  • Let wel: indien jy ’n vak as ’n agste vak registreer, sal jy daardie spesifieke vak vir die volle jaar as ’n agtste vak moet neem.
  • Om ’n ekstra vak te staak, kan slegs gedurende die eerste twee weke van ’n nuwe skooljaar geskied. Om die ekstra vak te staak, voltooi vorm E.
KUNS AS VAK
  • Om kuns as vak by die PJ Olivier Kunssentrum te neem, voltooi vorm F.
  • Let wel dat daar ekstra fooie betaalbaar is.

Om ’n vak te verander, moet die leerder (1) die nodige vorm/vorms aflaai en voltooi en (2) die stappe volg soos hier onder uiteengesit. Let asb. op die volgende:

  • Alle vorms is hier onder in PDF-formaat beskikbaar om afgelaai te word, maar gedrukte kopieë is ook buite me. Jeanne-Marie Kriel se kantoor (oorkant k. 27) en in me. Elzabé van der Watt se klaskamer (k. 20) beskikbaar.
  • Vakverandering behels dat vakkeuses op die CEMIS-stelsel (die WKOD se datastelsel vir leerderadministrasie) verander word. Dit kan slegs geskied indien alle vorms volledig ingevul is en die hele proses voltooi is.
  • Vakveranderinge is onderhewig aan klasgroottes – indien daar nie plek in ’n klas is nie, sal die vakverandering nie goedgekeur word nie.
  • Leerders sal nie toegelaat word om drie weke voor ’n eksamen vakke te mag verander nie.
  1. Die vakopvoeder van die vak wat die leerder wil staak, moet die vorm(s) teken.
  2. Die vakopvoeder van die leerders se “nuwe” vak, moet die vorm(s) teken. Graad 10- en 11-leerders moet daarop let dat die opvoeder van hul nuwe vak albei vorms (vorm B en vorm C) moet teken.
  3. Een van die leerder se ouers/voogde moet die vorm(s) teken.
  4. Graad 11-leerders moet ’n afskrif van hul vorige twee rapporte (Junie en Desember) saam met hul vakveranderingsvorms inhandig. Rapporte word outomaties aan ouers via die d6 per e-pos gestuur, maar indien nodig, kan rapporte by info@hmsbloemhof.co.za versoek word.
  5. Nadat stappe 1 tot 4 voltooi is, moet die leerder haar vorm(s) na me. Elzabé van der Watt vir goedkeuring bring.
  6. Die leerder sal ’n toestemmingsbrief by me. Van der Watt ontvang wanneer die vakverandering goedgekeur is sodat sy van een klas na die ander mag skuif. Leerders MOET ’n toestemmingsbriefie hê voordat hulle van een klas na ’n ander mag skuif.

Let wel:

  • ’n Vakverandering kan slegs geskied indien alle vorms volledig ingevul en die hele proses voltooi is.
  • Daar sal nie goedkeuring vir ’n vakverandering verleen word indien die vorms onvolledig is nie.
  • Indien daar nie plek in ’n klas beskikbaar is nie, sal die vakverandering nie toegelaat word nie.
  • ’n Leerder sal nie toegelaat word om drie weke voor ’n eksamen vakke te mag verander nie.
  • Leerders wat versuim om die proses te volg, se vakke sal nie op die WKOD-stelsel verander word nie en die leerder sal gewoon ’n punt van 0 op haar rapport kry.

Navrae

Rig asb. Enige navrae oor vakkeuses en vakveranderinge aan me. Elzabé van der Watt by elzabe@hmsbloemhof.co.za.

HANDBOEKE & SKRYFBEHOEFTES

Alles wat Bloemhoffers vir leer nodig het

Bloemhof verskaf enkele handboeke aan leerders – hierdie handboeke is die skool se eiendom en leerders moet dit weer aan die einde van die skooljaar in ’n goeie toestand terugbesorg.

Vir ’n volledige lys van handboeke en skryfbehoeftes wat benodig word, volg die skakels vir die betrokke graad waarin die leerder vólgende jaar sal wees. Die behoeftelys vir leerders wat IGO as vak neem, word apart gelys.

Navrae

Rig asb. enige navrae oor handboeke, skryfbehoeftes of die boekebank aan me. Charné Schreuder by: boekebank@hmsbloemhof.co.za.

MATRIEKUITSLAE

Welgedaan, Matrieks!

Bloemhof handhaaf weer ’n 100% slaagsyfer en die Klas van 2024 se uitslae is bewyse dat gesonde werksetiek, deursettingsvermoë en kritiese denke tot groot suksesse lei.

Die Klas van 2024 se uitslae

100%

Ons spog weer met ’n 100% slaagsyfer (al 142 kandidate slaag)

99,3%

Van die kandidate slaag met universiteitsvrystelling
(141 van 142 kandidate)

93,5%

die gemiddeld van ons twee Dux-leerders

79,5%

van die kandidate slaag met ’n B-gemiddeld of hoër

77,1%

is die klasgemiddeld

60,46%

die gemiddelde punt van die laagste 10% van die matriekklas

52,8%

van die kandidate slaag met vier of meer A-simbole

33

soveel leerders slaag met ’n gemiddeld van 85%

19,7%

van die Klas behaal 7 of meer A’s

12

leerders slaag met ’n gemiddeld van 90% of meer

8

A-simbole vir een van ons leerders, Femke Boegman

3,82

A-simbole per kandidaat – in 2024 die hoogste gemiddelde aantal uit alle Suid-Afrikaanse skole!

2

Dux-leerders: Sophia Botha en Helena du Plessis deel vanjaar die nommer 1-klasposisie

1

Bloemhof eindig 1ste op die Skole Ondersteuning-sentrum se lys van top 20-skole in SA

1

Bloemhof se matriekuitslae maak van ons die DBO se beste kwintiel 5-skool in SA!

Die Klas van 2024 se uitslae

100%

Ons spog weer met ’n 100% slaagsyfer (al 142 kandidate slaag)

99,3%

Van die kandidate slaag met universiteitsvrystelling
(141 van 142 kandidate)

93,5%

die gemiddeld van ons twee Dux-leerders

79,5%

van die kandidate slaag met ’n B-gemiddeld of hoër

77,1%

is die klasgemiddeld

60,46%

die gemiddelde punt van die laagste 10% van die matriekklas

52,8%

van die kandidate slaag met vier of meer A-simbole

33

soveel leerders slaag met ’n gemiddeld van 85%

19,7%

van die Klas behaal 7 of meer A’s

12

leerders slaag met ’n gemiddeld van 90% of meer

8

A-simbole vir een van ons leerders, Femke Boegman

3,82

A-simbole per kandidaat – in 2024 die hoogste gemiddelde aantal uit alle Suid-Afrikaanse skole!

2

Dux-leerders: Sophia Botha en Helena du Plessis deel vanjaar die nommer 1-klasposisie

1

Bloemhof eindig 1ste op die Skole Ondersteuning-sentrum se lys van top 20-skole in SA

1

Bloemhof se matriekuitslae maak van ons die DBO se beste kwintiel 5-skool in SA!

MERIETELYS

Akademiese uitblinkers

Veels geluk aan die top-20-leerders in elke graad – hulle wys wat moontlik is wanneer harde werk en ’n gesonde werksetiek hand aan hand loop.

Merietelyste verskyn ná die Junie- en Novembereksamens en leerders met dieselfde punt (uitgewerk tot twee desimale) deel die posisie; daar kan dus meer as 20 leerders op ons Top 20 wees.

ONTDEK MEER

Pêrelhangertjies

’n Spesiale tradisie ná die NSS

Dux-leerders en A-kandidate

Bloemhoffers prestreer tydens die NSS

Erekleure in Akademie

Meer inligting oor akademiese vol- en halfkleure