Beweging met betekenis

Sport vorm ’n kerndeel van die Bloemhof-identiteit

Sport dra by tot die holistiese ontwikkeling wat ons nastreef. Bloemhoffers leer om met selfvertroue en dissipline hul eie grense te toets terwyl goeie sportmangees en dinamiese spanverhoudings ontwikkel word.

Hoë prestasie-ontwikkeling is vir ons belangrik, maar ons prioriteit is om vir elke Bloemhoffer die geleentheid te bied om aan sport te kan deelneem. Dit is vir ons lekker om te wen, maar ons glo ook dat daar waarde in verloor is, want dit bied die geleentheid vir groei en verbetering.

Ons gimnasium huisves al die toerusting wat jong vroue nodig het om hul beste te word. Dié spasie is gerieflik verdeel in ’n toegewyde fiksheidsarea en ’n ateljee vir konisionering.

Ons fokus veral op:
  • respek, sportmanskap en spanbetrokkenheid
  • die ontwikkeling van vaardigheid, strategie en uithouvermoë
  • gesonde mededinging en persoonlike groei
  • ’n balans tussen prestasie en ontwikkeling
  • pret – sport is deel van dit wat skool lekker maak

BELANGRIKE SKAKELS

Bly op hoogte van sportgebeure

Ons sportkalenders, -programme en -uitslae is regstreekse dokumente. Dit word soms bygewerk – daarom mag dit dalk nodig wees om die bladsy weer te laai (te “refresh”).

ATLETIEK

Vinniger, verder, hoër

Atletiek vorm die hart van Bloemhof se somersportsoorte en twee groot atletiekbyeenkomste – die 4M en BloemRoos – oorheers gesprekke in die eerste kwartaal.

Bloemhof Atletiek is gewortel in die wete dat ware oorwinning in volharding, samewerking en selfverbetering lê. Hoë standaarde word aan die buitengewone toewyding van ons atlete en afrigters toegeskryf en die Janine Visser-atletiekfasilteit bied die perfekte plek vir atlete om vinniger, verder en hoër te mik.

TENNIS

’n Erfenis van styl en strategie

Tennis het ’n lang geskiedenis by Bloemhof en is een van die sportsoorte waarin ons spanne jaarliks uitblink. Met verskeie bane en toegewyde afrigting deur die Coppini Tennis Academy word spelers aangemoedig om hul tegniek te verfyn en met trots en selfvertroue die baan te betree.

Behalwe vir ligawedstryde neem Bloemhoffers gereeld aan nasionale kompetisies soos die Gerrie Berner- en Amanda Coetzer-toernooie deel, en Interskole teen Oranje is ’n hoogtepunt. Vir spelers wat graag tennis wil speel, maar nie noodwendig wil kompeteer nie, is sosiale tennis ’n heerlike manier om fiks te bly.

SWEM & WATERPOLO

As uithouvermoë en spanwerk saamvloei

Swem bied Bloemhoffers die geleentheid om hul talent in ’n omgewing te slyp op tegniek, krag en deursettingsvermoë fokus. Ons verhitte 25 m-swembad en ’n span afrigters van Lane Leader – onder die leiding van hoofafrigter Pierre de Roubaix – help leerders om hul eie ritme te vind – of dit nou vir gala’s of vir ontspanning is.

Waterpolo is ’n dinamiese sport wat uithouvermoë, spanwerk en strategie kombineer en Bloemhof is een van ’n handvol Afrikaanse skole wat dié sportsoort aanbied.

HOKKIE

’n Spel van vaardigheid, visie en spanwerk

Hokkie is meer as ’n sportsoort by Bloemhof – dis ’n familie. Met ’n verligte astro en kundige afrigters word spelers op alle vlakke ontwikkel — van beginners tot nasionale verteenwoordigers.

Bloemhof se A-spanne kwalifiseer gereeld vir die nasionale topskole toernooie; in 2025 eindig ons o.18A’s tweede en die o.16’s vyfde in SA.

NETBAL

Doelgerigte presisie, onblusbare passie

As die gewildste sportsoort in ons skool staan ons spanne bekend vir hul sportmanskap, toewyding en samehorigheid. Ons beskik boonop oor puik afrigters en ’n nuutaangestelde prestasie- en ontwikkelingsbestuurder sorg vir hernude energie by Bloemhof Netbal.

Met doelgerigte oefening sorg ons dat elke speler leer wat dit beteken om met trots vir haar skool te speel.Ons rus ons dogters toe met die nodige lewensvaardighede wat hulle ook van die baan kan gebruik.Dit is vir ons baie belangrik om balans tussen kompetisie en ontwikkeling te skep, sodat beide top-presteerders en beginners hul plek op die netbalbaan vind.

LANDLOOP

Langasems met ’n liefde vir langafstande

Bloemhof se landloopspan neem aan die Bolandliga deel en vier die afgelope jare oorwinnings tydens die Wintersweek teen Rhenish en die Interskole teen die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje. Landloop by Bloemhof gaan oor meer as net tyd en afstand — dit verg uithouvermoë, maar vier ook die vreugde wat langafstandatlete alte goed ken.

SKAAK

Stil strategieë en slim skuiwe

Skaak leer Bloemhoffers om strategies te dink, besluite te oorweeg en kalm te bly, selfs al is die druk hoog – vaardighede wat baie verder as die skaakbord strek.

Alhoewel Bloemhoffers reeds van 2016 af skaak teen Rhenish en Oranje speel, word dit in 2025 ’n amptelike sportsoort. In die eerste jaar waarin Bloemhof aan die Wes-Kaap se skole skaak deelneem, kraai ons juniorspan koning!

BUITESPORSOORTE

Iets vir almal wat sportief is

Bloemhoffers neem ook deel aan sportsoorte wat nie amptelik deur die skool aangebied word nie. Ons het tans ’n aktiewe fietsryspan wat sedert 2024 in Bloemhof-fietryklere aan kompetisies deelneem.

Ons omgewing – veral Stellenbosch en die universiteit – bied aan leerders ’n wye verskeidenheid ander sportsoorte soos gimnastiek, multisportsoorte soos twee-, drie- en vyfkamp, onderwaterhokkie, rotsklim, boogskiet, judo, karate… Hierdie aktiwiteite bied ruimte vir individuele prestasie en leerders wat uitsonderlik presteer, kan selfs in aanmerking vir erekleure kom.

ONTDEK MEER

4M-atletiekbyeenkoms

Dié gebeurtenis op Bloemhof se sportkalender

Interskole teen Oranje

’n Jaarlikse viering van susterskap

Erekleure in Sport

Meer inligting oor die aansoekproses