Bloemhof in ’n neutedop
Uitnemendheid
Die Bloemhof-benadering tot uitnemendheid
Ons is nie ’n prestasiegedrewe instansie nie, maar ’n mensgedrewe skool waar ons opreg vir mekaar omgee. Tog presteer ons leerders buitengewoon goed — omdat hulle floreer in ’n omgewing waar balans, ondersteuning en geleenthede saamwerk.
Uitnemendheid is die somtotaal van alles wat Bloemhof bied:
- leerders wat van dag een af voel hulle behoort, wat mekaar met liefde ondersteun en mekaar se sukses vier
- toegewyde personeel wat hul vakkennis met passie deel, altyd die ekstra myl stap, en met deernis lig werp eerder as om foute te soek
- ouers wat onwrikbaar betrokke is en hul dogters aanmoedig om hul beste self te wees
- moderne fasiliteite wat leer en ontwikkeling bevorder
- die wete dat elkeen se beste goed genoeg is, en dat elkeen aangemoed word om hul beste self te wees
Om uitnemendheid te meet
By Bloemhof is jóú beste dié beste. “Uitnemendheid” lyk dus vir almal anders en ons meet dit aan elkeen se potensiaal. Wanneer ’n leerder sukkel om haar potensiaal te verwesenlik, tree die skool ondersteunend in. Nee, Bloemhoffers is nie perfek nie – en daaroor is ons dankbaar. Ons leerders maak foute, maar ook dit is ’n geleentheid om te leer en te groei en na uitnemendheid te streef.
Waardes
Bloemhoffers koop by die volgende vyf waardes in:
Omgee
’n Bloemhoffer is ’n mens deur ander mense.
Werksetiek
Dit is ’n voorreg om te kan werk.
Afgerondheid
Die voorkoms en optrede van ’n Bloemhoffer is altyd gepas.
Respek
Respek is die sleutel tot suksesvolle verhoudinge.
Integriteit
’n Bloemhoffer se woord is haar eer, en haar eer is haar identiteit.
Ons skoolwapen
SKOOLLIED
Alma Mater, in ons harte
bly ons altyd jou getrou.
Jy leer ons in vreugd’ en smarte
Bloemhof’s naam steeds hoog te hou.
Deur die lewe as jou kinders
sal ons saam jou stempel dra.
Want jy voed ons op tot ware
burgers van Suid-Afrika.
Semper Fidelis, altyd getrou –
selfs in die vreemd en ver
sal ons met ons saam dra,
Bloemhof jou naam,
altyd en ewig trou.
Een van drie huise
Bloemhoffers word in een van drie huise ingedeel en neem jaarliks aan verskeie geleenthede deel om uiteindelik die Huisbeker te verower. Nuwe leerders word volgens hul vanne ingedeel, maar uitsonderings word gemaak vir leerders wat ma’s, oumas, tannies of niggies in die skool gehad het.


