Waar kreatiwiteit weerklink

Kultuur het Bloemhof nog altyd na aan die hart gelê.

’n Waardering vir die kunste is ’n belangrike deel van die balans wat ons nastreef en dit is iets wat sedert 1875 nog nooit verander het nie.

Of dit nou ’n opvoering, uitvoering, improvisasie of uitstalling is, Bloemhoffers kry gereeld die geleentheid om op kultuurgebied deel te neem. Toegewyde opvoeders en afrigters dra daartoe by dat leerders hul talente in musiek, kuns, drama, debat en redenaars kan uitleef terwyl hulle belangrike vaardighede ontwikkel.

’n Verskeidenheid verenigings sorg ook dat Bloemhoffers betrokke kan raak by dit waaroor hulle passievol is, want om deel van ’n gemeenskap te wees, dra by tot die susterskap waarvoor Bloemhof bekend is.

Ons fokus veral op:
  • die ontwikkeling van kreatiewe en kritiese denke
  • deelname aan ’n wye verskeidenheid kulturele aktiwiteite
  • selfuitdrukking deur musiek, drama, debat en kuns
  • die bevordering van selfvertroue, samehorigheid en kultuurbewustheid
Bloemhof-leerling speel houtblaasinstrument tydens ’n musiekuitvoering

BELANGRIKE SKAKELS

Bly op hoogte van kultuurgebeure

Ons kultuurprogram en kultuurkalender is regstreekse dokumente. Dit word soms bygewerk – daarom mag dit dalk nodig wees om die bladsy weer te laai (te “refresh”).

KOOR

Stemme wat saam stories vertel

Bloemhof se skoolkoor, Accelerando, se naam is afkomstig van die musiekterm vir “versnel” – en dit is presies wat ons koor regkry. Met sowat 80 lede bied Accelerando ’n ruimte vir leerders met ’n liefde vir sang en samesyn – en bewys dat die geheel groter is as die som van die individue.

Behalwe vir optredes en kompetisies is daar ’n jaarlikse kamp, sosiale geleenthede en – een van die hoogtepunte – die Kersafsluiting aan die einde van die skooljaar.

ORKES

Harmonie deur hart en hand

Stringendo, ons ensemble, bied aan leerders die kans om musiek te leef, nie net te speel nie. Alhoewel die orkes hoofsaaklik uit strykers bestaan, is daar ’n ruimte vir alle instrumentaliste.

Van klassieke werke tot moderne komposisies bring hulle elke noot tot lewe. Die orkes is ’n ruimte waar talent geslyp en musiek as gedeelde liefde beleef word. Stringendo neem jaarliks aan Eisteddfods deel en tree gereeld by Bloemhof-geleenthede op.

MARIMBAS

Leer unieke ritmes in lekker ruimtes

Wat in 2021 met sowat 30 lede begin het, is vandag een van die grootste kultuurgroeperings by Bloemhof met ongeveer 80 leerders wat in die oggende voor skool bymekaar kom om te oefen. Leerders het geen musikale agtergrond of kennis nodig om aan marimbas deel te neem nie – dit bied aan hulle die unieke geleentheid om musiek (en vriende!) te maak sonder om noodwendig note te kan lees.

Die Bloemhof-marimbas bestaan vandag uit verskeie groepe: konsertgroepe wat by verskeie geleenthede optree en ook beginnergroepe waar enigiemand welkom is. Ons marimbas is meer as net musiek – dis vriendskap en vrolike spanwerk.

DEBAT & REDENAARS

Woorde wat saakmaak

Bloemhof se debatteerders en redenaars weet hoe om met oortuiging en respek te praat. Debat ontwikkel die vermoë om helder te redeneer, empaties te luister en logies te reageer, terwyl redenaars aan leerders die geleentheid bied om hul idees met selfvertroue te deel en taal met styl te gebruik.

Bloemhoffers neem jaarliks aan verskeie kompetisies deel, onder andere by die ATKV, en dat ons leerders hier uitblink, getuig van die sprekers én hul afrigters se toewyding om met woorde te woeker.

TONEEL

Van teks tot teater

Toneel bied aan Bloemhoffers die kans om hulself op die verhoog uit te druk en, as deel van ’n ensemble, saam te werk, te groei en kreatief te wees.

Bloemhof bied jaarliks vir leerders die geleentheid om aan ’n produksie onder die leiding van ’n personeellid of buite-afrigter deel te neem, of om die uitdaging van ’n leerderproduksie aan te pak waar hulle self vir die hele proses verantwoordelik is. Verskeie vaardighede word ontwikkel – toneelspel, maar ook dit wat rondom die verhoog gebeur: skryfwerk, regie, en die tegniese versorging.

Behalwe vir die verhoog word Bloemhoffers ook aangemoedig om aan filmkompetisies deel te neem – en ook daar steel ons leerders soms die kollig.

VERENIGINGS

Vindingryke verenigings bied iets vir almal

By Bloemhof is kultuur meer as musiek en toneel – dis ook deelname, gemeenskap en selfverryking. Ons verenigings en klubs bied vir elke leerder ’n plek om haar unieke belangstellings te verken, vriendskappe oor graadgrense heen te vorm en betekenis te vind in gesprekke en gedeelde ervarings.

  • Klub Momentum

    Fotografie in aksie – leerders vang Bloemhof-oomblikke vas en help om ons skool te bemark.

  • Phoenix

    Ons gemeenskapsdiensvereniging wat Bloemhoffers mobiliseer om ’n verskil te maak en die waardes van diensbaarheid en omgee uit te leef.

  • Terra

    Bloemhof se ekokomitee wat omgewingsbewustheid bevorder en praktiese stappe neem om volhoubaarheid in die skool te versterk.

  • JiB

    JiB staan vir Jesus in Bloemhof, ’n klub waar leerders saam aanbid, mekaar spiritueel ondersteun en saam hul Christenskap uitleef.

  • Equitas

    ’n Veilige, ondersteunende ruimte vir leerders wat oor identiteit, seksualiteit, gender, geloof en die breër menswees besin.

  • Fidelis

    Bloemhof se eie skoolkoerant en aanlyn blog. Deur die leerders, vir die leerders.

  • Mediakomitee

    ’n Vereniging vir senior leerders wat aktief in die mediateek help om ’n positiewe, leerondersteunende ruimte te skep.

  • Bloemhof Dansers

    ’n Energieke groep meisies wat jaarliks oudisie om by die 4M en ander geleenthede op te tree.

ONTDEK MEER

150 Musiekkonsert

Kyk na video’s van ons feeskonsert

Interskole teen Oranje

’n Jaarlikse viering van susterskap

Erekleure in Kultuur

Meer inligting oor die aansoekproses