SPESIALE GEBEURTENISSE
Tradisieryk, teenwoordig, toekomsgerig
Tradisies leef nie net in die verlede nie — dit vorm deel van Bloemhof se jaarlikse ritme en bind Bloemhoffers oor generasies heen. Dis tydens hierdie “groot dae” waarop Bloemhoffers ons geskiedenis eer, ons gemeenskap vier en nuwe geslagte aanmoedig om met trots hul plek in die Bloemhof-storie in te neem.

Tydlyn
JANUARIE
Verwelkomings en -baadjieseremonie
Pêrelseremonie
Seniorkamp
Graad 9-dag
FEBRUARIE
BloemRoos
Opedag
4M
Maart
Gholfdag
Stigtersdag
April
Daslas
All Girls’ Festival
Mei
Ekspo
JULIE
Wintersweek
AUGUSTUS
Matriektee
Interskole
Markdag
SEPTEMBER
Matriekafskeid
Oranjerivierroei
Graad 11 Europa-toer
OKTOBER
Prysuitdeling
Lentetee
Uitstapdag
Pretdag
NOVEMBER
Kersafsluiting
Inligting oor elke tradisie
Verwelkomings- en baadjieseremonie
Die eerste week van hoërskool begin met die simboliese aansteek van kerse vir die nuwe leerders. Aan die einde van die verwelkomingsweek volg die baadjieseremonie waar graad 8’s volwaardige Bloemhoffers word.
Pêrelseremonie
’n Spesiale seremonie waar die matrieks wat ná die NSS met ’n A-gemiddeld geslaag het, ’n pêrelhangertjie ontvang.
Seniorkamp
’n Ontwikkelingskamp vir al die graad 11-leerders bied aan hulle die geleentheid om pret te hê, as mense te groei en die graadgroep beter te leer ken.
Graad 9-dag
’n Pretdag vir die graad 9’s – vol speletjies en aktiwtiteite vir die juniors om mekaar beter te leer ken. Die dag word gewoonlik met waterkaskenades afgesluit.
BloemRoos
Bloemhof en Paul Roos Gimnasium span kragte saam vir die Prestige Atletiekbyeenkom. Die gees is gróót as BloemRoos op die paveljoen is!
Opedag
’n Geleentheid om vir voornemende leerders te wys waarom Bloemhof só spesiale plek is.
4M
Die vier meisieskole van die Boland ding om die 4M-beker mee. Dis dié atletiekbyeenkoms van die jaar en baadjietrots is aan die orde van die dag.
Gholfdag
’n Jaarlikse fondsinsameling en veilig ten bate van die skool – ’n heerlike dag van boule en gholf.
Stigtersdag
Bloemhoffers – oud en jonk – kom byeen om die skool se stigting in 1875 te herdenk en Bloemhof se verjaarsdag te vier.
Daslas
Daslas is ’n tradisie wat in 2017 ontstaan het en bied aan die matrieks die kans om kunstig te wees: Kyk die kreatiewe skooldasse!
All Girls’ Festival
Susterskap soos jy nie sal glo nie! Al die openbare meisieskole van Suid-Afrika kom byeen vir ’n fees van sport en kultuur.
Ekspo
Die graad 9-leerders verken jaarliks die wetenskaplike metode en kry die geleentheid om hul projekte met die skool te deel.
Wintersweek
Met Bloemhof en Rhenish wat buurskole is, is dit vanselfsprekend dat ons hierdie susterskap wil vier.
Matriektee
By die matriektee, aangebied deur die Bloemhofbond, ruil graad 12’s en hul ouers briewe en die leerders stap met hoë hakke oor die verhoog – simbolies van die volgende stap in hul lewensfase.
Interskole
Sedert 1996 meet Bloemhof en die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje van Bloemfontein kragte. Interskole is dié gebeurtenis van die jaar en ’n geliefde tradisie by albei skole.
Markdag
’n Geleentheid vir die graad 8’s om hul EBW-kennis ten toon te stel… En vir Bloemhoffers om hul lekkernye te koop!
Matriekafskeid
Sedert 1966 is die dié swierige geleentheid ’n dinee en dans. Dis nie net vir die matrieks ’n hoogtepunt nie, maar vir al die Bloemhoffers wat kom kyk hoe die meisies by die stadsaal instap.
Oranjerivierroei
Een van Bloemhof se lékkerste geleenthede… ’n Groep graad 11-leerders reis jaarliks na Noordoewer, Namibië, waar hulle hul dae op Oranjerivier en die aande op die rivier se oewer deurbring.
Europa-toer
Die heel eerste oorseese toer vind in 1954 plaas, en sedert 2010 word dit ’n jaarlikse tradisie vir ’n groep senior Bloemhoffers om na Europa te reis.
Prysuitdeling
’n Prestigeryke aand waar Bloemhoffers se werksetiek beloon word en ons uitsonderlike prestasies in akademie, sport en kultuur vier.
Lentetee
Sedert 1965 word ’n oggendtee ter viering van die lente vir Bloemhoffers se oupas en oumas gehou.
Pretdag
As die kat weg is, is die muis baas… Bloemhof se graad 11’s vier die begin van hul matriekjaar deur in die skool oor te slaap, snaakse kostuums aan te trek en ’n dag vol pret te hê.
Uitstapdag
Ons vier die laaste amptelike skooldag van ons matrieks met ’n spesiale kersseremonie, die hoofleiers lewer hul laaste toesprake en die skool vorm ’n erewag vir die matrieks om by die skoolhekke uit te stap.
Kersafsluiting
’n Spesiale dankseggingsdiens wat sedert 1969 in die Moederkerk plaasvind. Die koor en orkes sorg vir hemelse klanke en die graad 11’s lees die Kersverhaal voor. Ouers en oudleerders is welkom om hierdie besondere gebeurtenis by te woon.